Die Laaste Dae van Matteus 24
Erkenning
Ons wil ons innige dank uitspreek teenoor die volgende mense en instellings:
Baie dankie: Braam en Francois
Die Laaste Dae van Matteus 24
© Kopiereg Desember 1999
Deur Francois van Deventer en Braam Scheepers
Gepubliseer deur:
*
74 904 Lynnwoodrif 0040( (012)330-3150 (012) 331-5483
: http://ligstryders.bizland.com
Indeks
Hierdie geskrif is die resultaat van ‘n Bybelstudie wat in 1997 gehou is oor die Laaste Dae van Matteus 24. Francois het vir Braam gevra om hierdie Bybelstudie aan te bied. Braam was so entoesiasties dat dit hom ‘n hele paar weke geneem het om die Bybelstudie te voltooi. Francois het toe besluit dat die hierdie inligting ook aan die Christendom in die algemeen bekend gemaak moet word. Gevolglik is die Bybelstudie toe uitgebrei en heelwat nuwe materiaal is toe ook bygewerk. Na baie ure se harde werk is hierdie dan die resultaat.
Ons wil hierdie boekie opdra aan Marcellus Kik. Sy boek An Eschatology of Victory (Presbyterian and Reformed Publishing Co, ISBN 0-87552-313-7) het ‘n onuitwisbare indruk op ons gemaak. Dit het ons ook geïnspireer en baie waardevolle inligting verskaf om hierdie Afrikaanse boekie oor Matteus 24 die lig te laat sien.
In 1994 het Francois begin om ‘n Bybelse Wêreldbeskouing Seminaar te organiseer. Die seminaar sou meer as 10 verskillende sprekers (waar onder ook twee Amerikaners) ‘n geleentheid gee om God se Woord aan byna 100 Christene te verkondig. Aangesien daar baie werk daaraan verbonde was om van hierdie seminaar ‘n sukses te maak het Francois reeds 5 maande voor die tyd aan hierdie seminaar begin organiseer. Francois het besoek gaan aflê by ‘n broeder in Christus wat hom toe gevra het waarmee hy besig was. Francois vertel hom toe van die seminaar, waarop die broeder toe antwoord dat hy sy tyd mors en dat die HERE teen daardie tyd lankal weer sou terug gekom het aarde toe. Met ander woorde Christene moet nie enige toekomsbeplanning wat langer as 4 of 5 maande in die toekoms strek, maak nie.
Hierdie was egter geen geïsoleerde voorval nie. Francois was saam met ‘n teoloog (hy het ‘n doktorsgraad) by sending werk in Sunnyside betrokke. Gedurende hierdie tyd het hierdie teoloog getrou en Francois het hom gevra wanneer hy en sy vrou beplan om kinders te hê. Die teoloog antwoord toe dat ons in die Laaste Dae van Matteus 24 leef en dat dit volgens die Bybel baie moeilik gaan wees vir die vroue wat swanger is (Matt 24:19), daarom gaan hy en sy vrou eerder nie kinders hê nie.
Dit is dus duidelik dat ‘n verklaring van wat ons as Christene in die toekoms te wagte kan wees, uiters noodsaaklik is, want baie Christene het so ‘n ongesonde toekomsverwagting dat hul funksie as produktiewe Christenstryders vir God se Koninkryk byna totaal geneutraliseerd is. Mag hierdie boekie ‘n bydrae lewer om Christene in Suid-Afrika die regte perspektief op Matteus 24 te gee, sodat ons God sal eer in alles wat ons doen. Dat ons ook sal beplan om van alle nasies dissipel te maak en Christus se heerskappy te aanvaar (Matt 28), dat ons kinders as ‘n seën van die HERE sal beskou (Ps 127) en hulle sal opvoed tot eer van sy Naam !
Francois en Braam
Inleiding: Oorloë, hongersnood, pessiektes en aardbewings
Die afgelope paar maande is die nuus oorheers deur aardbewings in Griekeland, Turkye en Taiwan. Duisende mense het gesterf en nog meer is beseer. Pessiektes is reeds vir die afgelope 10 jaar ‘n alledaagse gebeurtenis. Dit word beraam dat ‘n kwart van Suid-Afrika se bevolking reeds VIGS onder lede het. Dan praat ons natuurlik nie oor die toename in die voorkoms van sulke "siektes" soos malaria nie. Dit is ook ‘n feit dat oorloë oral voorkom. Die afgelope paar maande is Serwië vir maande aaneen gebombardeer. Dieselfde gebeur in Rusland waar Moslemmilitantes verskeie woonstelblokke in die lug geblaas het en Rusland in reaksie daarop Tjetsnia binnegeval het en duisende bomme laat reën het op Grozny. Natuurlik is oorlog deel van die allerdaagse lewe in Afrika met oorloë wat woed in Angola, Soedan, Etiopië, Zaïre (DRK), ens. Wanneer mens Matt 24:6-8 lees dan klink dit of die Bybel van ons tyd praat:
"En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiekte en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is 'n begin van die smarte."
As ons verder lees, staan daar geskryf van ‘n groot verdrukking wat so erg sal wees dat alle vlees uitgewis sou word as God dit nie ingekort het nie. As ons egter vers 34 lees dan sê Christus dat al hierdie gebeure sal plaasvind voordat die geslag met wie Hy praat te sterwe sou kom.
Ons het dus hier te doen met die feit dat daar vandag baie Christene is wat ons tyd as die tyd waarna Matteus 24 verwys, beskou. Volgens hulle leer die Bybel dat Christene tydens hierdie aardse bedeling bestem is om die onderspit te delf. Daar is geen salf daaraan te smeer nie en daarom sal geen hervormings suksesvol wees nie. In werklikheid sê hierdie Christene dat dit nodeloos is om die sout van die aarde en die lig van die wêreld te wees (Vgl Matt 5:13-15)
Hoe moet ons dan Matteus 24 verstaan? Het Christus ‘n fout gemaak toe Hy gesê het "Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie." Lê die gebeure van Matteus 24 in die toekoms of het dit reeds plaasgevind of het Christus Homself misgis deur die tyd van sy wederkoms binne enkele jare na sy hemelvaart te verwag? (kyk vers 34) of nog erger het Jesus gedink hy is die Messias, terwyl Hy nie werklik die Messias was nie?
Dit is baie belangrik dat ons antwoorde kry op hierdie vrae, want die Bybel se gesag is op die spel. Matteus 24 is 'n wapen in die hand van liberale teoloë en skeptici waarmee hul die Bybel se betroubaarheid kan bevraagteken.
Die verwarring kan duidelik gesien uit die feit dat die vertolking van Matt 24 baie wissel van persoon tot persoon. As voorbeeld noem ons slegs twee uiterste gevalle:
Ons glo dat Christus Hom nie misgis het met die voorspelling dat hongersnood, oorloë, pessiektes en aardbewings die groot verdrukking sou voorafgaan in die tyd van die geslag met wie Hy gepraat het nie. Ons glo dat daar geen teenstrydigheid is tussen vers 34 en die verse wat dit voorafgaan nie. Ons glo egter ook nie dat die wederkoms reeds plaasgevind het nie. Die doelwit van hierdie geskrif is om uitvoerig uiteen te sit hoe Matteus 24 verstaan moet word.
Matt 24:1-44 kan kortliks as volg opgedeel word:
19 v.C Herodus die Grote begin met die bou van die derde Tempel.4 v.C Jesus Christus gebore 30 n.C Jesus Christus word gekruisig 53 n.C Die Romeine val die Britse Druïdes aan. 58 n.C Paulus gearresteer in Jerusalem. 61 n.C Opstand van Koningin Boadicia in Brittanje. 70,000 Romeine en Romeinsgesindes gedood. 62 n.C Die oorlog in Armenië lei bykans tot 'n volskaalse oorlog tussen die twee supermoonthede van daardie tyd, nl. Rome en Pharsië Jacobus die broer van Jesus sterf ‘n marteldood in Jerusalem Die Romeine verslaan Koningin Boadicia |
Gebeure voor die Groot Verdrukking |
63 n.C Pompeji word geskud deur ‘n aardbewing.64 n.C Nero brand Rome af en beskuldig die Christene. Die Christene word kwaai vervolg. Die bouwerk aan die tempel is ook voltooi. 66 n.C Die Joodse oorlog breek uit. 67 n.C Vespasianus verower Galilea en Josephus word as krygsgevange geneem. 68 n.C Vespasianus verower Perea en dele van Judea. Gaius Julius Vindex rebelleer teen Nero. Nadat ook die senaat en die elite soldate rebelleer, pleeg Nero selfmoord. Hy was die laaste van die Julius-Claudius-linie en dit skep groot onsekerheid oor wie die opvolger sou wees. 69 n.C Die jaar van die vier keisers. Die Romeinse ryk kom byna tot 'n val nadat burgeroorlog uitbreek. Opstand in Brittanje. Jode word uitgemoor. 70 n.C Die beleëring en vernietiging van Jerusalem. Die tempel word vernietig. Die Bybelse Kanon word afgesluit (Dan 9:24, Openb 22:18) |
Die Groot Verdrukking Matt 24:20, Dan 9:24, 12:1, Luk 21:20, 1 Tes 2:14, Openb 7:2-14, 11:2 |
74 n.C Masada val. Laaste weerstand van die Joodse rebelle word gebreek?79 n.C Pompeji, Herculaneum en Stabiae vernietig in ‘n vulkaniese uitbarsting. |
Gebeure na die Groot Verdrukking |
Die samestelling van Matteus 24
Voordat ons na die eerste verse van Matt 24 kyk, moet ons eers agtergrond kry van dit wat vooraf gebeur het.
Met die koms van die Messias het Johannes die Doper die Jode gewaarsku dat die oordeel naby is en dat die Jode nie hulle hoop moet vestig op hulle afkoms nie maar tot bekering moet kom soos duidelik gesien kan word uit Matt 3:9-10:
"En moenie dink om by julleself te sê: ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit die hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek. Maar die byl lê ook al teen die wortels van die bome. Elke boom wat geen goeie vrug dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi."
Jesus sê dieselfde as Johannes nl. dat die oordeel kom en dat die Jode uitgewerp sal word uit die koninkryk omdat hulle nie die ware geloof aanhang nie. Die voorreg van die Koninkryk was nie vir kinders van Abraham deur afstamming nie, maar vir kinders van Abraham deur die geloof.
"Maar Ek sê vir julle dat baie sal kom van ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jacob aansit in die koninkryk van die hemele. Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande."
- Matt 8:11-12
Soos Matteus se beskrywing van die evangelie verder gaan begin die weerstand teen Christus deur die verteenwoordigers van die Jode al duideliker na vore kom. Die gelykenis van die twee seuns (Matt 21:28-32), die gelykenis van die landbouers (Matt 21:33-46) en die gelykenis van die bruilof (Matt 22:1-14) is spesifiek gemik teen die leiers van die Jode en om te verklaar dat die Jode nie die koninkryk sal beërwe nie.
Dit het die Skrifgeleerdes en Fariseërs woedend gemaak. Jesus was 'n doring in hul vlees en het hulle gesag ondermyn. Die verteenwoordigers van die Jode probeer om iets teen Jesus te kry deur strikvrae (Matt 22) maar kon nie, want Jesus beantwoord hulle vrae meesterlik en hulle maak net gekke van hulleself.
In hoofstuk 23 bereik dit 'n klimaks as Jesus die Joodse godsdienstige leiers veroordeel en beskuldig van die plaas van ondraaglike laste op die mense se skouers. Hulle sluit die deure van die koninkryk vir die mense, verkondig 'n valse leer, het gebrek aan oordeel, ontferming en geloof. Jesus het hoop "verloor" dat hulle, hul sal bekeer. God het keer op keer deur die profete gepleit dat die Jode hulleself sal bekeer en terug kom na Hom. Nou met die verwerping van sy Seun en die naderende kruisiging is God se geduld op. Die beker van ongeregtigheid / sonde sal nou deur die grootste misdaad oorvloei en oor dié nasie die vreeslike oordeel van God te weeg bring.
God sal die tempel nou vir altyd verlaat. Die tempel is nou net 'n skandvlek op die aarde, slegs geskik vir vernietiging. Dit is belangrik om te sien dat Jesus se woorde verander het van "My huis" in Matt 21:13 na "julle huis". Die tempel is duidelik nie meer Sy huis nie.
In Matteus 23:36-38 maak Christus dit duidelik dat die Joodse nasie verlate gelaat sal word totdat die Jode die boodskap van die Evangelie aanvaar, dan eers sal God weer by hulle woon. Vergelyk met Rom 11.
"En Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys.
"Hierdie boodskap van oordeel (Matt 23) was vir die dissipels skokkend want dit het glad nie in gepas by hulle verwagtings oor die Messias en die Messiaanse koninkryk nie. Die dissipels het die algemene verwagting gehad dat die tempel sou voortbestaan dwarsdeur die nuwe tydperk wat die Messias sal inlei. Die Jode het gedink dat die tempel sal bestaan tot aan die einde van die tyd. Hierdie uitkyk was gebaseer op 1 Kon 9:3, Ps 78:68-69. Die fout was egter dat die dissipels nie verstaan het dat die tempel geestelik van aard is nie, net soos hulle ook nie verstaan het dat die Koninkryk geestelik van aard is nie. Daar is egter geen verskoning vir hulle onkunde nie aangesien Jesus duidelik die geestelike aard van die tempel aangetoon het. (Matt 12:6, Joh 2:19-21, Joh 4:21)
Ten spyte van hierdie duidelike verwysings kon die dissipels nie die werklikheid van die geestelike tempel begryp nie. Die Joodse tradisie was op daardie oomblik vir die dissipels net te sterk om hulle self daarvan los te skeur. Hulle hoop was op 'n aardse tempel wat 'n sentrale rol sou speel in die Messiaanse tydperk. Dit is asof die dissipels terwyl hulle na die tempel wys, wil sê: U kan sekerlik nie bedoel hierdie tempel nie? Hierdie tempel sal bestaan tot die einde van die tyd!
Oordeel oor die Tempel: Matt 24: 2
"En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.
"Jesus bevestig net dat Hy wel gepraat het van hierdie tempel en dat Hy wel bedoel het dat die tempel vernietig sal word. Hierdie woorde van Jesus het in vervulling gekom in 70 n.C. toe Jerusalem vernietig is. Deur God se groot genade het daar 40 jaar verloop vir die Jode om tot bekering te kom (Nineve het net 40 dae gehad om tot bekering te kom.)
Die Romeinse soldate onder leiding van Titus het Jerusalem en die tempel so vreeeslik vernietig, dat Josephus so kommentaar lewer: "daar was niks oor nie sodat iemand wat daar naby kom nie sou glo dat dit voorheen bewoon is nie."
Vraag van die dissipels: Matt 24: 3
"En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?
![]() |
Die werke van Josephus is van besondere belang aangesien hy ‘n ooggetuie was van die gebeure wat tot die vernietiging van Jerusalem gelei het. Flavius Josephus was 'n nie-Christen, Joodse geskiedskrywer van priesterlike afkoms. Josephus het gelewe vanaf 37 n.C. tot 101 n.C. In 66 n.C. breek die Joodse oorlog uit waartydens Josephus diens doen as 'n generaal in die Joodse magte. Hy word egter gedurende die oorlog verslaan by Jotapata waarna hy oorgee aan die Romeinse magte. Hy kry dit egter reg om die Romeinse generaal Flavius Vespasianus te bevriend deur te voorspel dat Vespasianus binnekort keiser sal word. Hy werk saam met Vespasianus om die Jode te probeer oorreed van die hopeloosheid en so moontlik Jerusalem en die tempel te spaar. Hy is egter nie suksesvol in sy pogings nie en Jerusalem val in 70 n.C. en die tempel word totaal vernietig. In 69 n.C. word sy voorspelling bewaarheid waarna hy bevry word van sy boeie. Vespasianus word sy beskermheer en borg sy bekende werk oor die Joodse oorlog wat hy in 75 n.C. skryf, slegs 5 jaar na die vernietiging van Jerusalem. Josephus verander sy naam van Josephus ben Matthias (Josephus, die seun van Matthias) na Flavius (sy beskermheer se familie naam) Josephus |
Dit is belangrik om te besef wat die dissipels vra, want dit is juis wat Jesus gaan beantwoord in die res van Matt 24. In Mark 13:4 is die dissipels se vraag as volg opgeteken:
"Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken wanneer al hierdie dinge volbring word?"
In Lukas 21:7 is die vraag as volg opgeteken:
"En hulle vra Hom en sê: Meester, wanneer sal dit dan wees, en wat is die teken wanneer dit gaan gebeur?"
Uit hierdie vrae van die dissipels word dit duidelik dat hulle onder die indruk was dat die vernietiging van die tempel en die wederkoms van die HERE in dieselfde tyd sou plaasvind. Die verwarring van hierdie twee gebeurtenisse kan toegeskryf word aan twee redes. Eerstens het die Jode verwag dat die tempel tot die einde van tyd sal staan en gevolglik dat die vernietiging van die tempel slegs sal plaasvind aan die einde van die geskiedenis. Tweedens het Christus voortdurend tydens sy bediening die dissipels geleer van die komende oordeelsdag (Sien Matt 10:15; 11:22; 12:36,41,42; 13:49). Daarom is dit vir hulle dood natuurlik om die oordeel van Jerusalem te vereenselwig met die oordeelsdag. Verder is die dissipels ook geleer dat die oordeelsdag saam val met die einde van die Wêreld. (Kyk Matt 16:21-23)
Wat ook al die dissipels se presiese begrip was van die vernietiging van die tempel, Jesus se antwoord skei die vernietiging van Jerusalem en die wederkoms. Soos gesien kan word uit Matteus antwoord Jesus eers die vraag oor wanneer die tempel vernietig sal word en wat die tekens daarvan sal wees (Matt 24: 4-35) en dan die vraag wanneer die wederkoms sal wees en wat die tekens daarvan sal wees (Matt 24:36-25:46).
In Hand 2:17 kan mens sien dat die laaste dae (van die Ou Testamentiese era) aangebreek het toe die profesie wat deur Joël gespreek is, in vervulling gegaan het.
Jesus Antwoord: Voorafgaande gebeure: Matt 24: 4-14
Valse Christusse: Matt 24: 4-5
"En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei."
Onder die Jode van daardie tyd was daar 'n verwagting dat die koms van die Christus naby was. Kyk Joh 1:19-20,4:29,7:27,31 en 12:34.
Die Jode het 'n Messias verwag wat 'n politieke koninkryk sal oprig en hulle bevry van die Romeine. (Sien Joh 6:15). Die Jode het egter die karakter van die koninkryk misverstaan en so die ware Christus misken en verwerp. (Sien Matt 17:12) Selfs die dissipels van Jesus, wat Hom herken het as die Messias, het steeds nie begryp dat die dood van Christus 'n noodsaaklike stap was in die oprigting van die koninkryk nie.
Hierdie intense verwagting van die Jode is deur verskeie persone uitgebuit en hulle het hulle self voor gedoen as die Christus. Voorbeelde sluit in: Simon Magus (Hand 8: 9,10) wat volgens vroeë rekords homself as die seun van God geag het. Dositheus wat aanspraak gemaak het daarop dat hy Christus is. Maier som die werk van Josephus op en vertel ook van Theudas en ‘n Egiptiese bedrieër.
Die mag en aansprake van enige politieke leier sou versterk word deur aanspraak te maak dat hy die Messias is. Die dissipels moes dus baie versigtig wees om nie aansluiting te vind by sulke Sionistiese waansin nie. Dit is interessant om op te let dat hierdie valse profete en valse messiase 'n belangrike rol gespeel het in die godsdienstige en kulturele aanwakkering wat gelei het tot die Joodse oorlog vanaf 66 n.C. tot 72 n.C. Schaff merk op dat :
"Israel van daardie tydperk is aangehits tot die astrantste politieke en godsdienstige fanatisme. Israel is voortdurend aangehits deur valse profete en messiase soos byvoorbeeld die een wat Josephus noem wat 30,000 dissipels agter hom versamel het."
Daar was baie bedrieërs wat onder die dekmantel van goddelike inspirasie die Jode aangemoedig het tot opstandigheid teen die Romeinse owerheid. Kyk byvoorbeeld Hand 5:36-37, 8: 9-10 en 21:38. Die Egiptenaar waarvan gepraat word, is heelwaarskynlik dieselfde persoon waarna Josephus verwys in sy werk "The wars of the Jews"
Dit is ironies dat die Jode wat die Christus verwerp het, nou valse Christusse wat hulle eie ondergang sal bewerkstellig, geloofwaardig gevind het en uiteindelik die gepaste vergelding daarvoor ontvang het.
Jesus begin sy antwoord deur die dissipels te waarsku om nie mislei te word nie. Die Jode van die eerste eeu het vurig uitgesien na die koms van 'n seëvierende Messias wat die Romeine sou uitdryf.( Luk 24:21)
Oorloë, hongersnood, pessiektes en aardbewings: Matt 24: 6-8
"En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiekte en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is 'n begin van die smarte."
Die begin van die smarte vir die Joodse nasie sal bestaan uit oorloë, hongersnood, pessiektes en aardbewings. Op die tydstip toe Jesus hierdie woorde gespreek het was daar vrede binne die grense van die Romeinse ryk. Hierdie vrede was toe te skryf aan die dramatiese sukses van die Pax Romana (Die vrede van Rome) wat in gestel is deur Augustus in 17 v.C. Deur God se groot voorsienigheid het hierdie tydperk van vrede, wat grootliks ongeskonde gebly het tot Nero se tyd, die Christelike geloof in staat gestel het om vinnig te versprei.
Dit was egter nie lank na die kruisiging van Jesus dat die Jode begin het om stryd, onenigheid, twis, tweedrag, opstand en oproer te ondervind nie. Slegs 7 jaar na Christus se dood en opstanding begin ‘n ontstuimige periode vir die Romeinse Ryk en dus ook vir die Jode.
In 37 n.C word Keiser Tiberius (14 n.C. - 37 n.C.) opgevolg deur Gaius (Caligula) (37 n.C. - 41 n.C) wat kranksinnig was en waarvan vertel word dat hy een van sy perde as konsul aangestel het. Caligula beveel dat sy standbeeld in die allerheiligste van die tempel in Jerusalem geplaas moet word. Die Jode weier om die bevel uit te voer en lewe voortdurend in vrees dat die keiser die weermag na Palestina sal stuur. Gelukkig vir die Jode kom daar niks daarvan nie, want Caligula word kort daarna vermoor.
Claudius was die volgende keiser wat aan bewind gekom het (41 n.C. - 54 n.C. ) Hand 18: 2 vertel dat Claudius al die Jode beveel het om uit Rome pad te gee. Die Christene het ook geval onder hierdie reël omdat die Romeine die Christene as 'n Joodse sekte beskou het. Claudius word egter deur sy eie vrou, Agrippina, vergiftig en word opgevolg deur Nero (54 n.C. - 68 n.C.)
Tydens Nero se bewind het opstande en oorloë byna oral uitgebreek. In Engeland het Boadicea daarin geslaag om in 60n.C. die Romeine te oorwin en 70,000 Romeine en Romeinse handlangers sneuwel. Sy word egter later oorwin en Romeinse heerskappy word weer in Engeland herstel.
'n Geweldige ramp tref die Christene in 64 n.C. in Rome toe Nero die skuld op hulle pak vir die groot brand wat baie mense in Rome se lewens gekos het. 'n Geweldige vervolging van die Christene volg waartydens Paulus en Petrus beide as martelare sterf. Nero het homself as die wêreld Verlosser beskou. In sy laaste regeringsjaar het die burgers hom toegeroep: "Hail, Olympian Victor! Hail, Pythian Victor... Hail aan Nero wat die god Apollo is! Ons Nasionale Oorwinnaar, die enigste van die begin van die tyd af!..." Die kern van Nero se verlossingsleer was dat vryheid kom deur die vernietiging van die onderskeid tussen goed en kwaad. Hy het hierdie leerstelling dan ook self uitgeleef en hom skuldig gemaak aan egbreuk, bloedskande en moord. Hy het sy eie moeder, sy broer en tante vermoor. Hy het selfs so ver gegaan om sy eie swanger vrou dood te skop. Die Romeinse naturalis, Pliny the Elder (A.D. 23-79), het Nero beskryf as die "vernietiger van die menslike geslag" en die "gif van die wêreld." Nero het selfs so ver gegaan om die benaming Christen af te skaf. Byna die hele Romeinse Ryk was ontevrede met Nero se ongeregtigheid en openlike rebellie breek uit in Gallië, Spanje en Afrika. Slegs die vrees vir die Keiserlike wag het die Senaat en ander hooggeplaastes verhoed om Nero te onttroon. Nero pleeg egter selfmoord toe Nymphidius Sabinus daarin slaag om die Keiserlike wag sover te kry om Galba te ondersteun en die Romeinse leër in opstand kom.
Intussen was daar oproer en opstand teen die Jode in Palestina. Die inwoners van Seseria vermoor meer as 20,000 Jode. Die Joodse nasie is woedend kwaad en plunder en verwoes die omliggende Siriese dorpe. Die Siriërs doen soortgelyk en roei alle Jode in hulle dorpe uit. Verskeie ander dorpe kom ook in oproer teen die Jode en vermoor of gooi die Jode in die gevangenis. In Alexandrië in Egipte word die Jode uitgeroei deur die Griekse inwoners met die hulp van Romeinse magte gestasioneer in Alexandrië. Ook in Selisië is 50,000 Jode vermoor.
In 66 n.C. het die Jode in opstand teen die Romeine gekom en breek die Joodse oorlog uit wat so baie ontbering vir die Joodse nasie te weeg gebring het. In 68 n.C. slegs 54 jaar na die dood van Augustus, was die Romeinse regeringstelsel op die rand van ineenstorting. Die laaste van die Julius-Claudius linie het gesterf. Daar was wanorde en burgeroorloë woed terwyl die leiers veg oor wie die volgende heerser sou wees.
In ‘n tydperk van slegs een en ‘n half jaar volg vier keisers mekaar op. Vanaf Junie 68 n.C. tot Januarie 69 n.C. het Galba geregeer, maar is vermoor deur Otho. Toe regeer Otho vanaf Januarie 69 n.C. tot April 69 n.C., maar hy pleeg selfmoord, om Vitellius se troepe te ontvlug. Vitellius regeer vanaf April 69 n.C tot Desember 69 n.C. Hy sneuwel egter op die slagveld teen Vespasianus. Vespasianus het die leisels egter goed vasgegryp en regeer vanaf 69 n.C tot 79 n.C
Titus was die seun van Vespasianus. Vespasianus het die oorlog teen die Jode begin, maar met die struwelinge wat daar in die ryk gekom het, het Vespasianus voorlopig die oorlog gestaak. Toe Vespasianus keiser geword het, het Titus die oorlog in Jerusalem voortgesit en Jerusalem totaal vernietig en honderde duisende Jode gedood en baie weggevoer.
Die historikus Tacitus lewer as volg kommentaar oor hierdie tydperk net na die dood van Nero:
"The history on which I am entering is that of a period rich in disasters, terrible with battles, torn by civil struggles, horrible even in peace. Four emperors failed by the sword; there were three civil wars, more foreign wars and often both at the same time. There was success in the East, misfortune in the West. Illyricum was disturbed, the Gallic provinces wavering, Britain subdued and immediately let go. The Sarmatae and Suebi rose against us; the Dacians won fame by defeats inflicted and suffered; even the Parthians were almost roused to arms through the trickery of a pretended Nero. Moreover, Italy was distressed by disasters unknown before or returning after the lapse of ages.... In Rome there was more awful cruelty. Besides the manifold misfortunes that befell mankind, there were prodigies in the sky and on the earth, warnings given by thunderbolts, and prophecies of the future, both joyful and gloomy, uncertain and clear. For never was it more fully proved by awful disasters of the Roman people or by indubitable signs that gods care not for our safety, but for our punishment."
In Hand 11:28 word verwys na 'n grootskaalse hongersnood wat plaasgevind het tydens Claudius se bewind.
"En een van hulle met die naam van Agabus het opgestaan en deur die Heilige Gees te kenne gegee dat daar 'n groot hongersnood oor die hele aarde sou kom, wat ook gekom het onder keiser Claudius."
Dit is heelwaarskynlik dieselfde hongersnood waarna Josephus verwys in Antiquities 20:2:5 of L20:51-53 waarvan baie mense in Jerusalem dood gegaan het. Hierdie hongersnood het heel waarskynlik vir 'n paar jaar geduur Die klassieke skrywers getuig daarvan dat die tydperk 50 n.C. tot 60 n.C. 'n tydperk was waar daar wydverspreide en hernieude hongersnood was Op hierdie hongersnood het gewoonlik ook siektes en pes gevolg. In 'n enkele herfs in Rome gedurende hierdie tydperk is die dood van 30,000 mense aangemeld by die tempel van Libitina as gevolg van 'n plaag.
Volgens Davies was Nero se ongewildheid en daaropvolgende dood toe te skryf aan die nederlaag van die Romeinse magte in Brittanje teen Boadicea en 'n groot aardbewing in Suid Italië wat die bygelowige Romeine beskou het as 'n teken dat hulle geregeer word deur 'n ongelukkige keiser. Tacitus noem dat daar aardbewings was in Kreta, Rome, Apamea, Phrygia, Campania, Laodisea en Pompeji gedurende die tyd net voor die vernietiging van Jerusalem.
Toe hierdie gebeurtenisse plaasgevind het moes die dissipels bewus gewees het dat hierdie dinge nie op die einde dui nie maar dat dit slegs die begin was van die smarte. Dit was die begin eerder as die einde. Vir die dissipels sou hierdie probleme slegs geboortepyne wees van die koninkryk. Die toekoms is met hoop vervul alhoewel dit met smart sal gepaard gaan. Terwyl Jerusalem in rook opgaan, sal die onwankelbare Koninkryk gevestig raak - afsonderlik van sy moeder (Israel). Die Nuwe Testamentiese kerk sal afgesny word van sy moeder soos tydens geboorte. Kyk ook Heb 12:18-28.
Hierdie is alles gebeurtenisse wat sou plaasvind voordat Mark 9: 1 vervul sou word:
"En Hy sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die koninkryk van God met krag sien kom het nie."
"Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam."
Jesus waarsku die dissipels hier dat hulle vervolging moet verwag. Dit is nie nodig om ver te lees nie (Handelinge is vol daarvan) om te sien dat dit wel gebeur het. Bykans onmiddelik nadat die evangelie verkondig is, is die apostels geslaan en in die gevangenis gegooi. Stefanus is gestenig en Paulus het die Kerk begin vervolg.
Hand 8: 1
"En Saulus het ook sy vermoording goedgekeur. En daar het in die tyd 'n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judea en Samaria, behalwe die apostels."
Hierdie vervolgings in Handelinge is grootliks deur die Jode aangehits.
2 Kor 11:24-25
"Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, 'n nag en 'n dag het ek op die diepwater deurgebring"-
Vir bykomende insig kan ons kyk na die ooreenstemmende gedeelte in Markus.
Mark 13: 9
"Maar wees julle vir julleself op die hoede, want hulle sal julle oorlewer aan regbanke, en in sinagoges sal julle geslaan word en voor goewerneurs en konings gebring word om My ontwil, vir hulle tot 'n getuienis."
Die feit dat sinagoges genoem word dui spesifiek daarop dat die Jode 'n baie groot rol gespeel het in die vervolging van die eerste Christene. Die Romeinse owerheid het eers werklik die Christene begin vervolg in 64 n.C. toe Nero die Christene beskuldig het vir die brand wat groot dele van Rome vernietig het. Die Romeinse geskiedkundige Tacitus sê dat die Christene tydens Nero se bewind universeel gehaat is weens hulle misdade. Dr Gary North wys egter daarop dat hierdie gebeurtenis daartoe gelei het dat die Christene nie meer as ‘n Joodse sekte beskou is nie, maar as ‘n groep op hul eie. Dit het daartoe gelei dat toe die Joodse oorlog uitgebreek het en die Jode deur die Romeine uitgemoor is, terwyl die Christene nie oor dieselfde kam geskeer is nie.
"En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat."
As gevolg van die vervolgings en die swaarkry sal die geloof van sekeres verflou. Die volgende Bybelverse bevestig dit:
2 Tim 1:15
"Jy weet dit dat almal wat in Asië is, hulle van my afgekeer het, onder wie Figellus en Hermogenes is."
2 Tim 4:10
"Want Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het."
2 Tim 4:15-16
"Jy moet ook vir hom oppas, want hy het ons woorde sterk teengestaan. In my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het my verlaat. Mag dit hulle nie toegereken word nie."
Tacitus noem dat tydens die vervolging onder Nero selferkende Christene eers in hegtenis geneem is en inligting uit hulle gepers is waardeur baie ander gevange geneem is
"En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei."
Dat daar wel tydens die apostels se leeftyd baie valse profete en leraars was kan duidelik gesien word uit die onderstaande verse:
2 Pet 2: 1
"MAAR daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en 'n vinnige verderf oor hulleself bring;"
1 Joh 4: 1
"GELIEFDES, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan."
Kyk ook Hand 13: 6-12
Hierdie valse profete en leraars sou tweedrag saai en baie mense mislei. Bykans al Paulus se briewe handel direk en indirek as waarskuwing teen valse lering, want baie mense sal afvallig word van die ware evangelie.
Hand 20:29
"Want ek weet dit, dat na my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie."
Sien ook 1 Joh 2:19, Rom 16:17-18 en 2 Kor 11:13-15
"En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel."
Die meeste sou ontmoedig word deur hierdie toestand wat sou heers en hulle sou verflou in hulle geestelike lewe. Die geesdrif vir die evangelie en die ywer en liefde het verkoel deur die oorweldigende boosheid wat in die ryk geheers het. Die meeste van die sendbriewe is juis daarop gerig om die gemeentes te betug oor oor hulle gebrek aan ywer, liefde en oordeel. (Kyk ook die briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring.)
Gal 3: 3
"Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?"
Hoop vir volharding: Matt 24:13
"Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word."
Jesus sê dat die Christene en dissipels hulle nie moet laat onderkry deur hierdie swaar toestande nie. Hulle moet ten bloede toe vashou aan dit wat Hy aan hulle geleer het totdat hierdie vervolging opgehou het of totdat hulle te sterwe kom, want hulle sal die ewige kroon beërwe. (Kyk ook die briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring.)
"En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom."
Jesus sê dat voordat Jerusalem vernietig sal word, sal al die nasies van daardie tyd die evangelie hoor.
Die betekenis van wêreld in hierdie gedeelte verwys na die hele Romeinse ryk. Hierdie feit word duidelik wanneer na die volgende gedeelte gekyk word:
"EN in daardie dae het daar 'n bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele wêreld ingeskryf moes word." - Luk 2: 1
Kyk ook Hand 11:28 en 24: 5
Verder bevestig die Nuwe Testament dat die evangelie wel verkondig is reg deur dié wêreld. Ook kan na die volgende gedeeltes gekyk word:
"In die eerste plek dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal dat julle geloof verkondig word in die hele wêreld." - Rom 1: 8
"wat julle sowel as die hele wêreld bereik het; en dit dra vrug, net soos onder julle ook..." - Kol 1: 6
"as julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie, wat julle gehoor het en wat verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel..." - Kol 1:23
'n Baie belangrike punt om te besef is dat hierdie vers nie dieselfde betekenis het as die sendingopdrag wat Jesus aan die Christene gegee het in Matt 28:19 nie.
"Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het." - Matt 28:19
Daar is 'n groot verskil tussen slegs die verkondiging van die evangelie deur die hele wêreld en die maak van dissipels van al die nasies en om hulle alles te leer wat Jesus aan sy dissipels geleer het. Hoe kan Christus se Kerk verwag, dat Jesus weer moet kom terwyl hierdie opdrag nog duidelik nie uitgevoer is nie?
Hierdie was slegs gebeurtenisse van wat alles moes gebeur voor die vernietiging van Jerusalem. Hierdie tekens gee egter nie 'n aanduiding van wanneer die vernietiging van Jerusalem sou wees nie behalwe dat dit nie in die nabye toekoms is nie (dit kon verwag word dat die evangelie 'n ruk sou vat om deur die hele ryk verkondig te word.) Dit kon egter ook nie te ver in die toekoms gewees het nie want in vers 34 dui Jesus aan dat sekere van hulle dit nog sou sien gebeur. Jesus gaan egter nou oor om 'n definitiewe teken te gee wat sal aandui dat die vernietiging van Jerusalem naby is.
Jesus antwoord: Spesifieke tekens wat dui op die verwoesting van Jerusalem: Matt 24:15-20
Gruwel van Verwoesting: Matt 24:15
"WANNEER julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom, laat hy wat lees, oplet"
Hierdie is die teken wat aandui dat Jerusalem se oordeel naby is. Dit is ook belangrik om daarop te let dat Matteus geskryf is vir die Jode en Lukas vir nie-Jode. Gevolglik sou hierdie gebeure vanuit 'n Joodseoogpunt vertel word in Matteus en vanuit 'n nie-Joodse oogpunt in Lukas. 'n Mens kan dus ook na hierdie gebeure gaan kyk in Luk 21:20,21
"EN wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingel sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie."
Dit is moeilik om vandag te sê presies wat hierdie "gruwel van verwoesting" was. Dit is egter duidelik uit Lukas dat die "gruwel van die verwoesting" plaasgevind het tydens die omsingeling van Jerusalem deur 'n leër. Josephus vertel van so ‘n omsingeling deur "leërs": "Besides these [signs mentioned earlier], a few days after that feast [of Unleavened Bread], on the one and twentieth day of the month Artemisius [Jyar], a certain prodigious and incredible phenomenon appeared: I suppose the account of it would seem to be a fable, were it not related by those that saw it, and were not the events that followed it of so considerable a nature as to deserve such signals; for, before sun-setting, chariots and troops of soldiers in their armor were seen running about among the clouds, and surrounding of cities" Dit is presies wat gebeur het. Jerusalem is deur "hemelse leërs" omsingel. Die teken het duidelik in vervulling gegaan, maar die omsingeling was nie deur regte leërs nie en dus sou ontvlugting maklik wees. Dus sou Christene wat Christus se woorde gehoor het dadelik geweet het, dat die tyd van die vernietiging van die tempel nou aangebreek het en die oordeel oor die Jode en dat hulle dadelik Jerusalem moes verlaat.
Die "gruwel van verwoesting" kon heel waarskynlik die vaandel van die Romeinse leër gewees het. Die vaandel het bestaan uit 'n arend en 'n afbeelding van die keisers. Daar is goddelike eer toegeken aan hierdie vaandel. Die Romeinse soldate het hierdie vaandel aanbid en dit is as 'n groot skande beskou indien die vaandel in die vyand se hande sou val. Hierdie afgodsaanbidding van die Romeine se vaandel was 'n gruwel in die oë van die Jode. Gevolglik was die Jode eerder bereid om te sterf as om die Romeinse vaandel te verdra in hulle heilige stad.
'n Ander interpretasie wat die "gruwel van verwoesting" was, is moontlik wanneer daar op gelet word dat hierdie vers óf openlike ontheiliging van die aanbidding in die tempel was (Deut. 7:25; 27:15) óf die valse voorstelling van heilige aanbidding was. (Lev. 7:18; Deut. 17: 1). Dit moet onthou word dat daar verskillende faksies in Jerusalem was, wat teen mekaar geveg het. Die Selote was 'n minderheid in Jerusalem wat daarin geglo het dat bevryding van die Jode slegs deur oorlog verkry kon word. Hulle het die algemene publiek geterroriseer en openlik diefstal en moord gepleeg. Die algemene burgers het moeg geword hiervoor, in opstand gekom teen die Selote en hulle word in die tempel vasgekeer. Die Selote het toe die tempel in 'n fort omskep. Hulle het deur manipulasie 'n totaal onbevoegde persoon as Hoëpriester aangestel en gevolglik het die aanbidding in die tempel in valse aanbidding verval. Toe dit duidelik word dat die Selote geen hoop het nie, het hulle die hulp van die Edomiete gevra. Die Edomiete het 'n leër van 20,000 man na Jerusalem gestuur. Nadat die wagte aan die slaap geraak het, maak die Selote die deur oop vir die Edomiete en Jerusalem word deur die Selote oorgeneem. 12,000 jong mense en etlike duisende ander word deur die Selote en Edomiete in Jerusalem vermoor. Die Selote het nie toegelaat dat enige iemand Jerusalem verlaat nie. Gevolglik moes Christene uit Jerusalem vlug voordat die Selote oorgeneem het, maar nadat die Selote die aanbidding in die tempel ontheilig het. Die Selote was dus heel moontlik die gruwel van verwoesting, want hulle het die tempel ontheilig en gruweldade in Jerusalem veroorsaak terwyl hulle ook verhoed dat vrede met die Romeine gemaak kon word voordat Jerusalem en die tempel totaal vernietig is.
Dit is insiggewend om na William Whiston se "The Works of Josephus" te kyk. In hierdie boek wys hy daarop dat toe die Jode teen die Romeine in opstand gekom het, het Cestius, die goewerneur van Sirië, na Jerusalem gemarseer om die opstand te onderdruk. Die mense in Jerusalem was so bang, dat hulle net wou oorgee. Om een of ander onverklaarbare rede het Cestius die beleg opgehef en Jerusalem verlaat. Josephus vertolk hierdie onverklaarbare daad as God se oordeel om te verhoed dat die oorlog beëindig word en Jerusalem nie vernietig sou word nie. Whiston wys egter op die volgende: "Daar kan ‘n baie belangriker rede en God se voorsienigheid kan gesien word in hierdie onttrekking van Cestius. As Josephus ‘n Christen was, dan sou hy opgemerk het dat die Joodse Christene die voorspelling en waarskuwing van Christus sou onthou het omtrent 33 jaar van te vore, dat as hulle die gruwel van verwoesting [die afgodiese Romeinse leër met die afbeeldings van hul afgode en hul wapentuig, gereed om Jerusalem te vernietig] of Jerusalem omsingel deur ‘n leër sien, dan moet hulle na die berge vlug."
Die vervulling van hierdie gebeurtenis word deur Eusebius beskryf in sy geskiedkundige boeke:
" and how at last the abomination of desolation, proclaimed by the prophets, stood in the very temple of God, so celebrated of old, the temple which was now awaiting its total and final destruction by fire,- all these things any one that wishes may find accurately described in the history written by Josephus."
"dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie."
As die leër nader kom en Jerusalem omsingel dan moet die Christene vlug na die berge want die vernietiging van Jerusalem is naby Die haas moet so groot wees dat ‘n persoon op die dak nie eens moet afgaan om persoonlike besittings saam te vat nie, maar van dak tot dak beweeg en so na die berge vlug. (Die huise in daardie tyd se dakke was plat.) Dit is presies wat die Christene gedoen het en op hierdie manier is hulle gespaar van die groot verdrukking en swaarkry tydens die beleg van Jerusalem. Die geskiedkundige, Josephus, wys spesifiek daarop dat nie net die Romeine wat die stad omsingel het, die burgers verhoed het om te ontsnap nie, maar ook die Joodse Selote wat selfs sover gegaan het om vlugtelinge dood te maak.
Dit is ook interessant om daarop te let dat tydens Pinkster, toe die Jode van regoor die hele Romeinse ryk in Jerusalem was, meer as 3,000 Christene geword het (Hand 2:41). Kort daarna het 'n verdere 5,000 bekeerlinge bygekom. Hierdie nuwe Christene het in Jerusalem agtergebly aangesien hulle onderrig in die Evangelie wou ontvang. Dit het 'n geweldige groot ekonomiese las op die vroeë Christene geplaas, aangesien aan al hierdie mense se daaglikse behoeftes voorsien moes word. Die oplossing van die Christen Jode in Jerusalem was om hul eie eiendom te verkoop en die geld wat verkry is te gebruik vir barmhartigheidsdiens. Die rede hoekom die Christene dit gedoen het, was nie omdat hulle nou skielik sosialiste / kommuniste geword het nie. Nee, die rede was omdat hulle geweet het dat Jerusalem verdoem was en dat hulle eiendom in elk geval niks werd sal wees wanneer die Romeine kom nie. Gevolglik was dit beter om hul eiendom aan ongelowige Jode te verkoop en hierdie geld aan te wend. In der waarheid het God se kinders die geopenbaarde kennis oor die toekoms gebruik ten koste van die ongelowige Jode.
Wanneer mens die Christen Historikus, Eusebius, se werke lees, vertel hy ons óók dat hierdie vers dui op die vernietiging van Jerusalem:
"But the people of the church in Jerusalem had been commanded by a revelation, vouchsafed to approved men there before the war, to leave the city and to dwell in a certain town of Perea called Pella. And when those that believed in Christ had come thither from Jerusalem, then, as if the royal city of the Jews and the whole land of Judea were entirely destitute of holy men, the judgment of God at length overtook those who had committed such outrages against Christ and his apostles, and totally destroyed that generation of impious men."
Moeilike dae vir die vroue: Matt 24:19
"Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae."
Hierdie gedeelte sê dat onheil oor die land sou kom. Dit sou 'n baie moeilike tyd wees. Jesus vertel ons in Luk 23:27-31:
"En 'n groot menigte van die volk het hom gevolg, en die vroue wat rou bedryf en Hom beklaag het. Maar Jesus het Hom omgedraai en vir hulle gesê: Dogters van Jerusalem moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders; want daar kom dae waarin hulle sal sê: Gelukkig is die onvrugbares en die moederskote wat nie gebaar en die borste wat nie gesoog het nie. Dan sal hulle vir die berge begin sê: Val op ons! en vir die heuwels: Bedek ons! Want as hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droeë gebeur!"
Die Christene sou vinnig moes wegvlug uit Jerusalem wanneer dit duidelik was dat die oordeel oor Jerusalem voltrek sou word. Dit sou egter baie moeilik wees vir die vroue, omdat dit moeilik sou wees om met pasgebore babas te vlug. Eusebius, een van die eerste kerkhistorikusse skryf reeds in die vierde eeu dat hierdie vers tot en met vers 21 tot vervulling gekom het toe Jerusalem in 70 nC vernietig is.
"En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie."
Jesus sê vir die Christene om te bid dat daar nie enige hindernisse soos die winter sou wees wat hulle vlug sou bemoeilik nie. Jerusalem was feitlik ‘n homogene Joodse stad met die gevolg dat Jerusalem die Sabbatwette baie streng nagekom het. So was die hekke van die stad gesluit op die Sabbat (Neh 13:15-22). Buite Jerusalem was dit ook nie toelaatbaar om meer as 'n myl of twee op die Sabbat te reis binne Palestina nie. Indien die omsingeling deur ‘n leër op die Sabbat sou plaasvind, en dit noodsaak om op die Sabbat te vlug, sou dit bykans onmoontlik gewees het om te vlug.
Jesus antwoord: Gebeure tydens die verwoesting van Jerusalem: Matt 24 : 21-28
Die Groot Verdrukking: Matt 24:21
"Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie."
Die Christene moes vlug weens die groot verdrukking wat aan die kom was. Die verdrukking wat daar in Jerusalem was tydens die beleg, was hoofsaaklik toe te skryf aan die onderlinge burgeroorlog tussen die drie Joodse faksies. Hierdie burgeroorlog het sulke afmetings aangeneem dat die faksies mekaar se koringvoorrade aan die brand gesteek het en sodoende die Jode se kans om uit te hou teen die Romeine se beleg, verder verskraal het. Hulle het egter nog verder gegaan en honderde is selfs in die tempel vermoor. Die faksies was in verskillende dele van die stad en hulle het mekaar met "projektiele" bestook. Die mense wat probeer vlug het, het die doodstraf in die gesig gestaar aangesien al drie faksies binne Jerusalem gekant was teen enige oorgawe.
In Josephus se werke lig hy die sluier so 'n bietjie oor hierdie verskriklike gebeure gedurende die beleg van Jerusalem. Hy vertel byvoorbeeld van Maria van Bethezuba wat kort tevore geboorte geskenk het aan 'n seun. Al haar kos is egter gesteel. Sy neem toe die baba in haar arms en sê: "O jou ellendige kind: vir wie sal ek jou bewaar in hierdie verskriklike oorlog, hongersnood en hierdie verraad? As die Romeine ons lewe spaar, sal ons hul slawe moet wees. Die hongersnood sal ons ook vernietig, selfs voor die slawerny oor ons kom. So, wees jy dan my kos..." Sy het toe die baba doodgemaak en die helfte van hom opgeëet.
Talle kere het die Jode die Romeine uitoorlê. So het hulle byvoorbeeld gemaak of hulle oorgee en toe van die Romeinse soldate naderkom, is hulle bestorm en gedood. Die Jode het ook talle kere daarin geslaag om die hout stormramme te verbrand. Hierdie en soortgelyke gebeure het veroorsaak dat die Romeinse soldate die Jode al meer gehaat het. Gevolglik het die Romeinse soldate Jode wat gevange geneem is, geslaan, gemartel en aan kruise vasgespyker teen 'n tempo van 500 per dag. Daar was naderhand nie meer genoeg hout om kruise van te maak nie. Die honger en die versekering van Titus dat oorlopers nie gedood sou word nie, het heelwat Jode aangemoedig om tog oor te loop. Party van hierdie vlugtende Jode het goue munte ingesluk. Dit het egter bekend geword en die gevolg was dat sodra hulle gevang word, hulle deur party Siriese soldate (hulle was in bondgenootskap met die Romeine) oopgesny is om die munte te kon kry. Titus was baie kwaad, en hy verbied dit. Tog het hierdie praktyk nog in die geheim voortgegaan. Josephus vertel dat op een nag ongeveer 2,000 vlugtende Jode vanuit Jerusalem op hierdie manier oopgesny is. Die beleg van Jerusalem het plaasgevind tydens die Pasgafees en gevolglik was die stad vol mense. Hy vertel dat tydens Cestius se bewind 'n opname gemaak is van die aantal diere wat geslag is tydens daardie Pasgafees Daarvolgens is 255,600 diere geslag. Josephus sê dan dat as 10 mense per dier gevoed kon word, daar dus ten minste 2.5 miljoen mense was wat in Jerusalem aan die Pasgafees deelgeneem het. Slegs in Palestina het byna 2
½ miljoen Jode hul lewens verloor en 'n verdere twee miljoen is weggevoer in die sewe jaar tydperk vanaf 63 n.C. tot 70 n.C. Gedurende die vier maande vanaf April 70 n.C. tot Augustus het 1.1 miljoen Jode die lewe gelaat en is 97,000 gevange geneem.
Daar moet ook onthou word dat nog veel meer Britte, Galliërs, Duitsers en Romeine in die Romeinse Ryk vermoor is tydens die burgeroorloë wat hierop gevolg het. Nadat Nero Rome aan die brand gesteek het, het hy die Christene beskuldig. Volgens Tacitus is ‘n menigte Christene hiervan beskuldig. Hulle is toe met die velle van diere bekleed en deur honde verskeur, is aan kruise vasgespyker of is met pik besmeer en aan die brand gesteek om as ligte te dien. Nero het sy tuine beskikbaar gestel vir hierdie ‘vermaak.’
"Truly the ‘Great Tribulation’ of AD 63 to 70 - was… far and away the greatest holocaust of all time".
Nadat die Romeine die stad ingeneem het, het hulle selfs sover gegaan om die grond waarop die stad gestaan het om te ploeg en dit met sout te meng om dit so onvrugbaar moontlik te maak.
Dit is asof die Here 'n boodskap wou deurgee met die vernietiging van die Joodse tempel , want dit was op presies dieselfde dag as wat die vorige tempel vernietig (586 vC) is nl. 10 Augustus 70 nC. (9 Av volgens Joodse jaartelling). Die brand in die tempel het veroorsaak dat die goue versiersels gesmelt het en gevolglik het die soldate wat die goud wou bekom die tempel afbreek agter hierdie goud aan. Jesus se woorde is letterlik vervul: "Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie." - Matt 24:2
In die laaste jaar van keiser Flavius Claudius Julianus, 'n neef van Constantyn, in 363nC, het hy 'n edik uitgevaardig dat die Joodse Tempel weer herbou moet word. Jode van regoor die wêreld het geld gestuur en na Jerusalem gekom, maar die fondamente van die Tempel was skaars oopgegrawe, toe vlamme en ontploffings voorgekom het. Die werkers het gevlug en dit was die einde van die poging om die Tempel te herbou.
Hierdie oordeel het die Jode getref omdat hulle die Messias verwerp het en Hom laat kruisig het en gesê het dat hulle geslag sy bloed op hulle neem.
"En toe Pilatus sien dat niks help nie, maar dat daar eerder 'n oproer kom, het hy water geneem en sy hande voor die skare gewas en gesê: Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man; julle kan toesien! En die hele volk antwoord en sê: Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!" - Matt 27:24,25
Dit is ook insiggewend om daarop te let dat die Jode hulself as die volk van God beskou het en gevolglik het hulle dan ook gedink dat God hulle enige oomblik op 'n wonderbaarlike wyse sou red. Maar God het hulle onterf aangesien hulle hul verbond met Hom verbreek het. (Sien Lev 26:27-30, Jer 12: 8, Hos 9:10-15, Amos 9: 7-8, Matt 3: 7, 1 Tess 2:14-16, Tit 1:10-11)
Hierdie feite is ook insiggewend vir ons vandag. Daar is baie mense wat vandag dink dat omdat Suid-Afrika 'n "Christen" land is en 77% bely dat hulle Christene is, dit beteken dat God ons spesiaal sal behandel. Hier is dit veral sommige Afrikaners wat skuldig staan aangesien baie keer verwys word na die Gelofte wat afgelê is en dat God die Afrikaners toe wonderbaarlik bygestaan het. Afrikaners identifiseer hulle dan ook baie maklik met die beloftes wat in die Ou Testament aan Israel gemaak is. Die Jode het gedink dat dit onmoontlik was dat die tempel vernietig kon word en het die heeltyd gehoop dat God uitkoms sou gee. Maar net soos die Here 'n ongehoorsame Israel onterf het en vernietig het tydens die val van Jerusalem, netso moet ons hier in Suid-Afrika ook nie gerus wees en terugsit en dink dat ons onaantasbaar is nie. As die Here ongehoorsaamheid van sy volk so erg gestraf het in 70nC, dan sal Hy dit vandag nog straf.
"En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word."
God se oordeel oor die verskriklike afgodery en ongehoorsaamheid van Israel het in die verlede daartoe gely dat behalwe vir Noag en sy gesin, die hele mensdom uitgewis is, en dat Sodom en Gomorra totaal vernietig is. Hierdie vernietigingstyd kon baie erger gewees het, maar uit genade het God die verdrukking verkort. Die verwoesting was geweldig en "die slagting so erg dat die vure plek plek deur die dooies se bloed geblus is"
Die hongersnood wat in Jerusalem uitgebreek het, was so erg dat vroue die laaste stukkies kos van hul eie kinders weerhou het. Bendes het in Jerusalem rondgegaan en huise oopgebreek op soek na kos en vroue, kinders en oumense in die proses aangerand. Hulle het selfs sover gegaan om die mense op die mees grusame metodes te martel om vir hulle te vertel waar kos versteek is.
Die mense het so honger gehad dat hulle selfs sover gegaan het om koeimis te eet. 600,000 arm mense het omgekom en is by die hekke uitgedra . Aanvanklik het die Joodse leiers opdrag gegee dat die mense wat sterf weens honger begrawe moes word, maar die menigte was so groot dat hulle liggame oor die muur in die vallei afgegooi is.
Toe Titus die stad triomfantlik binne kom, was hy verbaas oor die stad en veral die torings se sterkte. Hy het toe gesê: "God moes sekerlik met ons gewees het in hierdie oorlog en die Jode van hierdie vestings laat afkom het, want wat kan stormramme of mensehande teen sulke torings doen?"
Valse Christusse en Profete: Matt 24:23-26
"As iemand dan vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! - moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn - moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer - moet dit nie glo nie."
Die ellende in Jerusalem was so erg dat baie Jode verlang het na uitkoms en gebid het dat die Messias (Verlosser) moet kom. Dit het die omstandighede geskep waar valse profete kon floreer. Verder het die Jode volgens die Joodse kalender die 5,000ste jaar sedert die skepping genader en het hierdie jaar vir hulle groot simboliese waarde gehad. Jesus sê dat die dissipels gewaarsku moet wees, want hierdie valse Christusse sal tekens doen wat baie wonderlik sal wees.
Christus se koms duidelik: Matt 24:27
"Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees."
Jesus maak dit duidelik dat sy wederkoms nie soos die valse profete en valse Christusse se "verskynings" sal wees nie, maar baie duidelik sal wees vir almal om te sien. Net soos wat weerlig wat slaan baie duidelik gesien kan word deur almal, so sal Christus se koms wees. Dit sal nie 'n geheime koms wees soos wat die valse profete sal sê nie.
"Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom."
Die "dooie liggaam" dui figuurlik op die Joodse volk wat moreel en geestelik dood is. Die term "aasvoël" kan ook vertaal word as "arend" omrede daar nie onderskeid getref word tussen die twee woorde in Palestina nie. Die term "arend" word gebruik as 'n simbool vir 'n vreemde nasie wat oordeel bring oor die Joodse nasie weens hulle sonde.
Tydens die beleg van Jerusalem het die Jode se verskriklike geestelike en morele verval duidelik na vore gekom. Die stryd, tweedrag, goddeloosheid en moordadigheid word so deur Josephus beskryf:
"I cannot hesitate to declare what my feelings compel me to. I suppose, if the Romans had longer delayed in coming against these guilty wretches, the city would have been swallowed up by a chasm, or overwhelmed with a flood, or struck with such thunderbolts as destroyed Sodom. For it had brought forth a generation of men much more godless than were those that suffered such punishment. By their madness indeed was the whole people brought to destruction. "
"Die HERE sal teen jou 'n nasie bring van ver, van die eindes van die aarde af, soos 'n arend vlieg - 'n nasie wie se taal jy nie verstaan nie." - Deut 28:49
Sien ook Hos 8:1 en Hab 1: 8
Jesus Antwoord: Gebeure na die verwoesting van Jerusalem: Matt 24 : 29-32
Oordeel oor die Jode: Matt 24:29
"EN dadelik na die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word."
Wanneer mens na hierdie vers kyk, wil dit voorkom of dit die totale vernietiging van die aarde aantoon en dus net as die einde van die wêreld gesien kan word. Wanneer mens egter die Woord met die Woord vergelyk, kom mens tot 'n heel ander gevolgtrekking. In die volgende Skrifgedeeltes kom dit duidelik na vore dat dit op God se oordeel dui oor ongehoorsaamheid en goddeloosheid:
Oordeel oor Babel:
"Kyk, die dag van die HERE kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde 'n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg. Want die sterre van die hemel en sy Orions sal hulle lig nie laat skyn nie; die son is duister by sy opgang, en die maan laat sy lig nie skyn nie." - Jes 13: 9-10:
Oordeel oor Edom:
"En al die leerskare van die hemel vergaan, en die hemel word inmekaar gerol soos 'n boek en al sy leerskare val af soos 'n blad van die wingerdstok afval en soos vye afval van die vyeboom. Want my swaard het dronk geword in die hemel; kyk, dit kom af op Edom en op die volk van my banvloek, om geoordeel te word." - Jes 34: 4-5
Oordeel oor Egipte:
"En as Ek jou uitblus, sal Ek die hemel oordek en sy sterre verdonker; Ek sal die son met wolke oordek, en die maan sal sy lig nie laat skyn nie. Al die skynende ligte aan die hemel, die sal Ek om jou ontwil duister maak, en Ek sal duisternis gee oor jou land spreek die Here HERE." - Eseg 32: 7-8
Vervulling van die profesie van Joël in Handelinge:
"En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle seuns en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in die dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word." - Hand 2:17-21 ( Sien Joël 2:28-32 )
Verder moet ook opgelet word dat daar in hierdie teks gedeelte (Matt 24:29) staan "EN dadelik na die verdrukking van daardie dae".
Dit kan dus nie dui op die wederkoms nie tensy jy glo die wederkoms reeds plaasgevind het tydens die vernietiging van Jerusalem. Dit moet ook onthou word dat Jesus die Ou Testamentiese simboliek wat aan die Jode bekend was sou gebruik om hierdie komende tragedie wat hul volk en Jerusalem sou tref te beskryf.
Die son, die maan en die sterre wat skitter in die hemelruim is simbolies van die heerlikheid en roem van die Joodse nasie. Dus, as die sterre uit die hemelruim val, dan dui dit op die vernietiging van die Joodse nasie se heerlikheid en roem.
Die teken van Christus: Matt 24:30
"En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid."
Dit is belangrik om op te let dat hier gesê word dat Jesus wat in die hemel is se teken sal verskyn. Hierdie teken sal Jesus se koms in oordeel oor die Jode wees. Toe Jerusalem beleër is, het die Jode kwaai rou bedryf. Party omdat hulle geweet het dat dit God se oordeel is wat hul volk nou getref het. Ander weer was glad nie berouvol nie, maar net in rou met vrees en bewing. Nie net die Jode in Jerusalem het geweeklaag nie, maar ook die Jode wat regoor die bewoonbare wêreld van daardie tyd versprei was
Sommige skrifverklaarders vertolk die woorde: "die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel" dat dit op Christus se wederkoms dui. Wanneer mens dit egter met ander dele van die Skrif vergelyk, vind ons die volgende:
"Godspraak oor Egipte. Kyk, die HERE ry op 'n vinnige wolk en kom na Egipte toe; en die afgode van Egipte wankel voor sy aangesig, en die hart van Egipte smelt in sy binneste." - Jes 19: 1
Dieselfde simboliek word ook gebruik in Ps 97:2-3 en Ps 104: 3. Dit is duidelik dat God in oordeel gekom het na Egipte en dat die simboliek dat God op die wolke kom, dui op sy koms in oordeel. Dit moet verder ook in ag geneem word dat Christus in Matt 16:28 sê:
"Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie."
Ook in Matt 26:64 sê Jesus aan die hoëpriester:
"Jesus antwoord hom: U het dit gesê. Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel."
Die vraag is nou: Hoe kan Jesus ter selfder tyd aan die regterhand van God sit en kom op die wolke? Die verklaring is dat dit nie letterlik so vertolk moet word nie, maar dat dit simbolies is van God se oordeel wat gaan kom. Dit beteken dat Jesus sal opvaar na die hemel en sit aan die regterhand van God soos beskryf word in Dan 7:13-14
"Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van 'n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is 'n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie."
Dit sluit aan by Jesus se uitspraak in Matt 28:18-19:
"En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het."
Een van die eerste openbarings van die krag en heerlikheid van die Messias was in die vernietiging van die stad wat Hom verwerp het as Koning en Verlosser. Hierdie daad van oordeel is bewys daarvan dat Christus aan die regterhand van God sit en dat alle mag in die hemel en aarde aan Hom gegee is. Die vernietiging van die tempel is ook die teken van die begin van 'n nuwe wêreldwye koninkryk soos gesien sal word in die volgende vers en die algehele skeiding tussen die Kerk en Judaïsme. Die geloof sal nou nie meer gesentreer wees om die tempel waar die offers gebring word nie, maar om Christus wat die finale offer gebring het. Dus is daar geen doel meer vir die tempel nie.
As Judaïsme in sy pre-Messiaanse vorm voortbestaan het sou dit net 'n belemmernis gewees het vir die Evangelie. Bestudering van Handelinge en die sendingbriewe toon duidelik aan dat die boodskap van verlossing veral verhinder is deur voorskrifte en gebruike van die ou bedeling. Met die vernietiging van Jerusalem is hierdie pogings om die vleeslike voorskrifte te behou finaal vernietig.
Versameling van uitverkorenes: Matt 24:31
"En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan."
Dit is belangrik om op te let dat die Griekse woord aggelos wat hier as engele vertaal is, nie altyd dui op hemelse wesens (engele) nie , maar ook kan dui op 'n menslike boodskapper. Gevolglik is dit nodig om na die verband te kyk om te bepaal of van hemelse boodskappers (engele) of ander boodskappers gepraat word. Die volgende voorbeelde waar aggelos vertaal is as boodskapper behoort dit duidelik te maak:
Daar word na Johannes die Doper verwys as 'n aggelos in Matt 11:10
"Want dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor uit sal regmaak."
Na Johannes se dissipels in Luk 7:24:
"En nadat die boodskappers van Johannes weggegaan het, begin Hy vir die skare aangaande Johannes te sê: Wat het julle uitgegaan in die woestyn om te aanskou ? 'n Riet wat deur die wind beweeg word."
Die spioene wat in die beloofde land in gestuur is in Jak 2:25:
"En is Ragab, die hoer, nie ook net so geregverdig uit die werke toe sy die boodskappers ontvang en met 'n ander pad weggestuur het nie ?"
Die woorde "harde trompetgeluid" kan dui op die opstanding van die dooies by die wederkoms, maar hier is dit nie die geval nie. Die beeldspraak van die trompet word ook deur die Bybel gebruik vir die volgende:
Die Jubeljaar (Lees Lev 25: 8-13) was die vyftigste jaar na elke 7 maal 7 jare vanaf die instelling daarvan. Die Jubeljaar is aangekondig deur trompet klanke deur die hele land. 'n Klank van vreugde as vryheid verkondig word aan alle Israeliete in gevangeskap / knegskap en die teruggewing van erfgrond wat weens armoede verkoop is. Die geestelike betekenis van die Jubeljaar word baie mooi aangedui in Jes 61: 1-3.
"Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om 'n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes 'n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep 'n jaar van die welbehae van die HERE en 'n dag van die wraak aan onse God; om al die treurendes te troos; om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, 'n gewaad van lof vir 'n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, 'n planting van die HERE, tot sy verheerliking".
Die Jubeljaar was 'n simbool vir vryheid van sonde en smart. Die Jubeljaar is ook 'n simbool van die evangelie tydperk soos dit volg uit Luk 4:17-21 waar Jesus sy bediening assosieer met Jes 61: 1-3:
"Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul."
Die Jubeljaar wat Jesus aangekondig het was nie net beperk tot die Jode nie. Met trompetklanke is verlossing verkondig aan alle nasies van die een uithoek van die aarde tot by die ander uithoek.
Let op die tekens: Matt 24:32-33
"En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle al hierdie dinge sien, dat dit naby is voor die deur."
Hierdie gebeurtenisse wat sal uitloop op God se oordeel tydens die oorgangstydperk van die Ou Testament met sy offerandes tot op die nuwe Evangelietydperk, was waarskynlik baie verwarrend en moes baie negatief gelyk het vir Jesus se volgelinge. Dit is hoekom Jesus vir hulle sê om te leer van die vyeboom. Wanneer die vyeboom begin om uit te loop, dan weet mens dat die somer nou naby is. Hierdie gebeurtenisse is dus tekens dat die tyd van groot hoop en groei net om die draai lê. Na die verwydering van Judaïsme sal daar vrugbare grond vir die evangelie wees, nie net in Palestina nie maar oor die hele aarde. Die koninkryk sal groei tot aan die uiterste van die aarde en vrug in oorvloed dra. Die vervulling van hierdie boonste gebeurtenisse sal 'n vrugbare somer vir die koninkryk van God inlei.
Die dissipels moes nie verbyster en neerslagtig wees oor die oordeel wat oor die ongelowige Jode sou kom nie. Dit sou rykdom inhou vir die wêreld.
"En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!" - Rom 11:12
Die hele aarde was vasgevang in 'n geestelike winter wat verdwyn het met die koms van die Messias. Die somer van die immergroen Evangelie was vertraag totdat die ou Jerusalem verwyder is. Die dissipels moes geduld beoefen. Al hierdie gebeurtenisse het presies gebeur soos Jesus geprofeteer het.
Josephus vertel dat voor die oordeel oor Jerusalem daar gedurende die hele jaar van 66 n.C. verskillende tekens verskyn het, soos byvoorbeeld die ster wat soos ‘n swaard gelyk het en oor die stad gehang het en ‘n komeet wat vir ‘n hele jaar lank sy verskyning gemaak het. Josephus sê egter dat die Jode nie hierdie tekens wou raaksien nie, maar eerder die baie vals profete geglo het wat gesê het dat God hulle sal red. Die Jode het dit heel waarskynlik vertolk as goeie tekens. So is Jerusalem in 67 n.C. een stormagtige nag deur 'n aardbewing geruk. Josephus sien dit as 'n voorbode van die komende onheil wat oor Jerusalem sou kom Tydens die Pasgafees toe die priesters die binne portaal van die tempel betree het, het hulle 'n groot geraas gehoor en toe die stemme van 'n menigte wat skree: "Ons verlaat hierdie plek!" Josephus vertel ook dat Jesus die seun van Ananias reeds vier jaar voor die Joodseoorlog dag en nag geskree het:
"'n Stem van die ooste, 'n stem van die weste, 'n stem van die vier winde, 'n stem teen Jerusalem en die heiligdom, 'n stem teen die bruidegomme en bruide, 'n stem teen al die mense!" Hy het aangehou om dit te skree alhoewel hy geslaan en gemartel is totdat Jerusalem deur die Romeine beleër is en tot die dag wat hy deur 'n Romeinse projektiel getref is en self ook gesterf het.
Josephus vertel ook dat voor die oorlog ‘n lig so helder soos daglig om die altaar geskyn het vir ongeveer ‘n halfuur. As mens onthou dat die lig wat in die woestyn verskyn het, aangedui het dat die mobiele tempel deur Moses en die Israeliete opgeslaan moes word en weer verskuif moes word, dan sien mens dat hierdie teken aangedui het dat God se heerlikheid wegbeweeg het uit die Joodse tempel. Die Jerusalem Talmud en die Babiloniese Talmud vertel beide van vier tekens wat gevolg het voor die vernietiging van die tempel nl.
In die tyd van daardie geslag: Matt 24:34
"Voorwaar Ek sê julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie."
Hier sê Jesus aan die geslag wat in sy leeftyd geleef het, dat al hierdie dinge nog in hulle geslag se tyd vervul sal word. Dit beteken dat die voorafgaande gebeurtenisse net kon plaasvind gedurende daardie geslag se leeftyd. Met ander woorde, hierdie gebeurtenisse het binne die eerste eeu na Christus plaasgevind en hierdie gedeelte kan nie van toepassing gemaak word op Christus se wederkoms nie.
Veertig jaar later het die Joodse Oorlog uitgebreek en die Tempel is totaal verwoes. Dit is verder ook belangrik om daarop te let dat in al vyf ander plekke waar Matteus die woord genea wat as geslag vertaal is, gebruik saam met hierdie, dit elke keer verwys na daardie spesifieke geslag (Dit is: Matt 11 :16; 12:41, 42, 45;en 23: 3) Gewoonlik word die idee van 'n geslag in die Bybel gebruik vir 'n tydperk van tussen 25 en 40 jaar. (Kyk Num. 32:13; Ps. 95:10).
Jesus se versekering: Matt 24:35
"Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie."
Jesus verseker hier sy dissipels dat so vas as wat die hemel en die aarde is, so vas is Sy woorde en so seker is dit dat dit wel sal gebeur.
Jesus antwoord: Die Wederkoms: Matt 24:36-44
Niemand weet wanneer nie: Matt 24:36
"MAAR van die dag en die uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen."
Die uitdrukking "die dag en die uur" dui daarop dat daar van onderwerp verander word. In die eerste gedeelte (Matt 24: 4-35) is daar herhaaldelik gepraat van "daardie dae" (in Matt 24:19,22,29) wat dui op 'n tydperk wat verby gaan terwyl daar nou verwys word na 'n enkele dag. Dit dui daarop dat die periode onder beskouing in hierdie gedeelte (Matt 24:36-25:46) verskil van die voorafgaande gedeelte. Jesus het oorgegaan om die tweede vraag te beantwoord. Die dag, die groot dag, daardie dag en daardie uur is bekende uitdrukkings in die Bybel vir die oordeelsdag tydens Jesus se wederkoms. Jesus het herhaaldelik met die dissipels gepraat oor die oordeelsdag as die dag en daarom is dit nie 'n probleem vir die dissipels om te besef dat Jesus die onderwerp verander het van die oordeel oor Jerusalem na die oordeelsdag tydens Jesus se wederkoms nie.
"Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? - Matt 7:22
"Maar Ek sê vir julle dat dit vir die land van Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag as vir jou." - Matt 11:24
"Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag." - Matt 12:36
Toe Jesus dus verwys na die dag het die dissipels besef Jesus verwys nou na die oordeelsdag wat hulle verwar het met die vernietiging van Jerusalem. Niemand weet wanneer die oordeelsdag sal wees nie, behalwe die Vader. Dit sluit ook Jesus in toe Hy nog op aarde was soos duidelik blyk uit Mark 13:32.
"Maar van daardie dag en die uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemele of die Seun nie, maar net die Vader. - Mark 13:32
As Matt 24: 36-44 oor dieselfde onderwerp handel as verse 4-35, hoekom sê Jesus in verse 4-35 dat Hy vir hulle ‘n spesifieke teken kan gee (vers 15), maar vers 36-44 sê hy dat nie Hy of enige iemand anders weet wanneer dit sal gebeur nie (vers 36) ? Verder sê Daniël in Dan 12:11
"En van die tyd af dat die voortdurende offers afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend-twee-honderd-en-negentig dae verloop."
'n Geldige vraag is: Hoe kan dit aan Daniël geopenbaar wees (v15) as vers 36 sê dat niemand weet nie? Die antwoord is dat hierdie twee gedeeltes nie oor dieselfde onderwerp praat nie. Soos reeds vroeër verduidelik verwys die eerste gedeelte na die vernietiging van en oordeel oor Jerusalem terwyl die laaste gedeelte verwys na die oordeelsdag.
Sal onverwags kom: Matt 24:37-44
"En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie. Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie. Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie."
Hieruit blyk dit dat die oordeelsdag skielik sal kom wanneer die mense dit nie verwag nie. Daar sal geen tekens wees wat daarop dui nie. Uit die boonste beskrywing lyk dit asof die lewe normaal sal voortgaan.
Ons kan dus sien dat Matteus 24 as volg opgedeel kan word:
Eerste deel : Die verwoesting van Jerusalem (Matt 24: 4-33)
Tweede deel : Die oordeelsdag(Die wederkoms) (Matt 24:36-44)
Die volgende kom na vore:
In die eerste deel is daar spesifieke tekens wat gegee word.
In die tweede deel word daar geen tekens gegee nie wat aandui dat dit heeltemal onverwags / skielik sal wees.
In die eerste gedeelte was daar groot rampe vooraf.
In die tweede gedeelte vind die normale alledaagse plaas.
In die eerste deel word mense aangeraai om te vlug na die berge.
In die tweede gedeelte word mense aangeneem.
Die eerste gedeelte dui 'n tydperk "daardie dae", aan.
Die tweede gedeelte dui op 'n skielik gebeurtenis "die dag en die uur"
Die eerste gedeelte dui op oordeel oor Palestina (Lokale gebied).
Die tweede gedeelte dui op 'n wêreldwye oordeel.
Wat beteken dit dus vandag vir ons?
I. God sal nie 'n goddelose volk red nie.
"The most important aim of the Zealot movement was, as I have said, the liberation of Israel. A special characteristic of the Zealots was that they were prepared to die as martyrs rather than to bow to foreign rulers.(63) In particular the events at the fall of Masada in AD 73 are a vivid illustration of this."
Net soos wat die Jode van 70 nC gesmag het na vryheid en 'n onafhanklike land vry van die Romeinse verdrukking, so ook smag Afrikaners vandag na vryheid. Afrikaners moet egter versigtig wees dat hulle nie ook nes die Jode slegs die gedaante van Godsaligheid vertoon en nie meer die HERE dien soos wat die Voortrekkers gedoen het nie. Tog is daar onder Afrikaners ook volksgenote wat redeneer dat God hulle sal red uit die gemors wat aan die ontwikkel is in Suid-Afrika ongeag daarvan of hulle sy Heerskappy aanvaar en daarna streef om "alles te onderhou wat Ek julle beveel het."
Die Groot Verdrukking en die verskriklike moeilike tye wat in Matt 24 deur Christus voorspel is, het reeds plaasgevind. Wat staan ons as Christene dan vandag te doen?
"Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het." - Matt 28:19
"Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie. Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is." - Matt 5:13-15
"Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het." - 1 Kor 15:22-27
"En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word." - 2 Tim 3:12
Wanneer Christene 'n moeilike tyd beleef waar vervolging moontlik lyk, dan moet ons nie Matt 24 misbruik om te sê dat dit voorspel is dat daar 'n Vervolging sal wees en dat ons niks daaraan kan doen nie. Ons moet eerder doen wat Jak 4: 7 sê:
"Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug."